Tuesday 26 January 2016

Jimmy en Sannie Barlow se seuns en dogter wat deelgeneem het aan WW11

James Charles Barlow is op 15 Mei 1880 te Mathyefontein gebore en hy was getroud met Susanna Elizabeth Ferriera.  Dit is nou my oupa en ouma aan moederskant.  

Eerstens wil ek vir Oom Ebbie Barlow baie dankie sê vir die inligting wat hy vir my laat kry het. 
Oupa en Ouma het die Gamtoos verlaat en verhuis na 'n plaas van 1000 morg met die naam Langverwagt wat hy by Mnr Starke vir 1500 pond gekoop het. Die plaas was naby Stella geleë en dis dan ook die deel van die wêreld waar ek groot geword het. 
Jare later het die huidige eienaar Barnie de Klerk Langverwagt se huis plat geslaan en die oorblyfsels van Oupa Jimmy se geweer in die pilaar van die huis gekry.
Oupa Jimmy het die geweer van die Kolonie gebring en baie springbokke vir die pot daarmee geskiet. Met die uitbreek van die oorlog het Oupa nie dokumente vir die geweer gehad nie en het hy besluit om die Martini Henry in die stoep pilaar toe te messel.
Die geweer is goed met gries gesmeer en in 'n doek toegedraai. 
Oupa Jimmy en Ouma Sannie op Langverwagt by die pannetjie
Hy het later Langverwag verkoop en die plaas Wegdraai naby Piet Plessis gekoop waar hy geboer het totdat hy die plaas verkoop het en toe afgetree het in Stella.

Oupa en Ouma Barlow het 12 kinders gehad en 9 van hulle het ek leer ken. 
Laura is vroeg oorlede.

Hierdie kinders van Oupa en Ouma het elkeen hulle merk op ons lewens gelaat.

Met Pa Gerald se afsterwe het ek en ma die pad terug plaas toe gery. 
Hennie en ons seun, Gerald-Cecil het Pa Gerald terug plaas toe gebring.
Ons was maar stil tydens hierdie "trek" en skielik toe ons so deur Schweizer Reineke ry, het Ma Floss so uit die bloute gesê dat haar broers die Wentzel Dam daar help bou het gedurende die Depressie. Dit was Oom Petrus, Oom Nati en Oom Dan. Hulle het met fietse gery van Langverwagt na waar die dam gebou is, wat so in ons terme ongeveer 50km was. Hulle het Vrydae plaas toe gekom en weer Sondae terug gery. Die geld was skaars maar hierdie inkomste wat deur die 3 ooms verdien was, het voorsien dat hulle nooit honger gely het nie. 

Die oorlog het uitgebreek en Ma Floss vertel dat hulle almal in die aand om die radio gesit het en geluister het van die oorlog. Dit was dan ook 'n manier van Oupa en Ouma om met hulle seuns "kontak" tehou.  

Vir Oom Nati (Ignatius Petrus) het ek nooit geken nie. Hy is op 11 Desember 1913, moontlik nog in die Gamtoos, gebore. Hy het saam met die familie Langverwag toe verhuis. Soos ma Floss en Oom Ebbie sê: 'n stil mens. Hy het elke oggend na ontbyt twee koppies uit die kas gehaal en vir hom en my ouma tee gemaak. Dan sou hulle 'n bietjie gesels en dan sou die dag vir hom begin. Hy het by die Magte aangesluit op 3 Julie 1940 (27 jaar oud) as deel van 1st Field Force Battalion en sou deel wees in die gevegte by Abyssina en Eritrea. Nadat die Italiaanse magte oorgegee het, het hulle verskuif na die hawe van Berbera in Somalia en toe is hulle per boot na Port Sues en per pad na Tunisia.  Daar is oom Nati opgeneem in die 1st Royal Natal Carbineers wat deel was van die Suid Afrikaanse Magte.  Vroeg in 1942 is die Geallieerde Magte terug gedryf  in Egipte tot by 'n klein onopvallende spoorweg stasie met die naam El Alamein. Hier het die magte onder bevel van Montgomery ingegrawe en vir die Duitse en Italiaanse Magte gewag. Die doel was, om patrolie te doen en gevangenis te neem vir ondervraaging. Op 6 Julie 1942 het Oom Nati en twee lede van die 1st Transvaal Scottish Regiment op so 'n patrollie vertrek. Hulle panser kar is deur 'n bom getref wat deur 'n Duitse 88mm kanon gevuur is. Hulle is al drie op slag gedood en was in die woestyn begrawe. Na die slag van El Alamein is hulle herbegrawe in die El Alamein Militêre Begrafplaas.
 In my huis hang 'n tapeserie wat oom Nati vir Ouma Sannie uit Egipte gestuur het.
 Dit het by haar aangekom na sy dood. 
Oom Nati was 29 jaar oud. 
"Where the tree has fallen let it lie" 
Oom Naas se graf in El Alamein
Die laaste foto van Oom Nati en die twee manne wat saam gesterf het.
Nati is in die middel.  Sy militêre foto
Oom Nati en sy twee mede-soldate is oorspronklik in een graf in die woestyn begrawe.
Hierdie was hulle oorspronklike graf voordat hy herbegrawe is in El Alamein
Ek het die voorreg gehad om Oom Dan (Daniel) te leer ken. 'n Merkwaardige man wat die Oorlog oorleef het. Oom Dan is op 16 November 1914 in Humansdorp gebore. Sy identiteits dokument sê 1916 maar Carol sê dat hy altyd gesê het dat dit 'n fout was. 
Oom Dan was 'n plaaskind en lief vir perde. Hy het 'n korrespondensie kursus gedoen by Professor Jesse Beery van Amerika. Na sy studies het hy op 'n perdeboer se plaas, De Put, gewerk. Hy het baie goed gedoen veral met die skou van die perde. Met die uitbreek van die oorlog het hy ook by die Weermag aangesluit op 8 Junie 1940 (26 jaar). Hy was deel van 'n berede regiment. Omdat daar nie juis vir perde 'n rol in die oorlog was nie is die regiment ontbind en is hy oorgeplaas na die SA Tank Corps. Later is hy oorgeplaas na die Technical Service Corps en het hy saam met die 6th SA Armoured Divisie na Catatba in Egipte vertrek. Daarvandaan is hulle per skip na Cassino. Oom Dan was betrokke by een van die ergste gevegte tydens die Tweede Wêreld Oorlog. Dit was winter in Italië met ysige toestande. Die modder was knie diep en die loopgraaf oorlogvoering tegniek is toegepas. Die slag van Monte Cassino het vir 5 maande geduur voordat die hele dorp en die klooster vernietig is. In die woorde van Emlyn Jones wat ook die slag oorleef het “It was diabolical. We lived like rats” Daarvandaan is hulle oor die Porivier en die Duitsers het op 22 Mei 1945 oorgegee. Oom Dan en die manskappe is terug na Egipte na Helwankamp en van daar na Suid Afrika. Oom Dan het in 1946 terug gekom en volgens Ma Floss was hy in 'n toestand. Hy het vir jare geen skoene gedra as gevolg van die koue omstandighede.
Oom Dan het diep spore getrap.
Oom Dan na die oorlog met sy voete in 'n skottel
Bo is Oom Dan en Oom Luther
Middel Oom Dan en sy perd
Onder is Monte Cassino na die oorlog. Vandag is die klooster weer herbou.
 
Oom Luther het ek ook nooit geken nie. Hy is op 18 November 1921 in Patensie gebore en het saam met die familie Langverwagt toe gekom. Met die uitbreek van die Oorlog het hy en Oom Dan by die Berede Magte aangesluit op 20 Junie 1940. Oom Luther en Harry Oppenheimer het, volgens familie vertellinge, die South African Tank Corps gestig. Die opleiding in Panservoertuie, wat in Suid Afrika vervaardig is, het begin. Dit was gedurende hierdie opleiding dat Oom Luther in 'n ongeluk met 'n panservoertuig was. Die voertuig het omgeslaan en die toring het op sy bors geval. Hy is dood op 24 November 1941 oppad na die hospitaal en is begrawe in die Militêre Begraafplaas in Voortrekkerhoogte. Oom Luther was 20 jaar oud.
Tannie Ball (Zenobia) was my peetma. Sy is op 23 April 1924 in Patensie gebore en het op Vryburg skool gegaan. Sy het by die weermag aangesluit op 13 Januarie 1943 (19 jaar oud) en was deel van die Women Auxiliary Anny Services in Pretoria. Sy het weermag trokke bestuur en was 'n korporaal. 
Tannie Ball by haar weermag trok
Dan, Lena, Madelein, Ball, Rhoda, Floss en Petrus
Tannie Ball 
Oom Ebbie (Ebenhaezer) is in Humansdorp gebore op 18 Julie 1927 en het op Langverwagt groot geword. Hy het eers op Curnow - 'n plaasskool en later Haarlem skoolgegaan. Daarna is hy na die Hoërskool Vryburg waar hy Matriek geslaag het. Op 3 Januarie 1945 het hy by die weermag aangesluit (19jaar) en het 40 dae opleiding in Potchefstroom gekry. Daarna is hy per Dakota na Helwankamp. Hier was 'n klomp jongmanne van Vryburg wat hy geken het. Hulle het 4 weke in Egipte (Helwan) gebly en is toe per trein na Port Siad en per skip na die hawe van Toronto in Italië. Daarvandaan is hulle weer per trein na Arreso. Hier het dit baie gereën en hulle was gedurig nat. Die oorlog was beëindig en hulle is verskuif na Bordighere aan die Italiaanse Rivera. In Oom Ebbie se woorde: "This was like a holiday and we were free to go and do whatever we want to, swim in the sea every day and went to France every second day, we had a nice time".  Hy het dieselfde roete terug huis toe gevolg en was in Mei 1946 terug op die plaas.
Oom Ebbie
Die Dakotas waarmee hulle vervoer is
Die Kamp by Helwan in Egipte 

Groetnis tot 'n volgende keer 
Sandra 

2 comments:

  1. Baie dankie. Die Sasino geveg is interessant. Dar was 'n klooster bo-op die berg wat besonder kosbaar was weens die onverbangbare skaate wat daarin was. Boeke, goedere wat met die geloof bediening ens betroke was. Die Duitsres het bo-op die berg stelling gehad. Hule en die Britse magte en die Ameikaners het dit besef en beide kante het gesorg dat die klooster nie die gevegte beskadig word nie. Toe besluit 'n Kanadese generaal dat die klooster net in die pad is. en hy laat die klloster toe deur kanonvuur en bomme vernietig. Die Duitsrers het toe in die bouvalle ingetrek waar hulle deeglik skuiling gehad het. Die vernitiging het die slag van Casino met vier maande verleng. Die pantser motors was uitstekende militêre voertuie en het baie waardevolle diens in die Woestyn en Italië gelewer.

    ReplyDelete
    Replies
    1. Baie dankie Andrew het gelees hoe die klooster deur die Duitsers ontruim is en vandag is dit weer herbou tot die volle glorie van destyds.

      Delete